Ontstaan, Visie & Kernwaardes, Embleem

Die ACK Hamilton was die 2de gemeente van die Afrikaanse Christen Kerk in New Zealand en het op 16 Mei 2004 onafhanklik van die gemeente in Auckland begin funksioneer.

Die ACK van NZ is ’n onafhanklike denominasie wat in NZ ontstaan (1998) het weens ’n behoefte onder ’n groep Suid-Afrikaners aan ’n geestelike bediening in Afrikaans. Intussen het die ACK gegroei tot 10 onafhanklike gemeentes en ’n aantal bedieningspunte.

Elke gemeente het ’n unieke karakter wat voortspruit uit die samestelling van mense wat die Here daar plaas. Die lidmate kom uit ’n wye verskeidenheid denominasies in Suid-Afrika.  Dit beteken dus dat dit vir almal ’n nuwe ervaring is van kerk-wees.  Dit is wonderlik bevrydend en verrykend, want ons leer by mekaar en leer ook om mekaar se verskillende maniere van aanbidding te akkommodeer en te aanvaar.

Dit is ’n wonderlike geleentheid om verby die (menslike) verskille en geskille te kyk en die eenheid van gelowiges in Jesus Christus te beleef. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal (Efesiërs 4:4-6).

Ons Visie:

ACK HAMILTON: DIE GEMEENTE MET OOP HARTE NA GOD, TEENOOR MEKAAR EN NA DIE WÊRELD.

God het Sy hart vir ons oopgemaak in Christus en roep ons om ons harte oop te maak vir Hom, teenoor mekaar en na die wêreld.

Daarom:
* sal ons daarna strewe om in ’n opregte verhouding met God deur Jesus Christus te lewe en om God met ’n oop en onverdeelde hart lief te hê;

* sal ons ons harte teenoor mekaar oopmaak en in eerlike en opregte geloofsgemeenskap teenoor mekaar leef;

*  sal ons ’n oop hart hê vir die nood en behoefte van die gemeenskap waarin God ons geplaas het en ons daarop toelê om die liefde van Jesus aan die wat nog buite is, te bedien.

KERNWAARDES
1.  God drie-enig is die oorsprong en sin van ons bestaan as gelowiges en as gemeente. Die kruis en opstanding van Jesus sal altyd sentraal  bly en in alles sal die fokus altyd val op God-drie-enig.

2.  Die Woord van God (Ou en Nuwe Testament) sal ons rigsnoer  in alles bly.

Daarom verbind ons onsself heelhartig, in afhanklikheid van God aan Wie ons hart en lewe geheel en al behoort, tot die volgende: 

a) Ons sal in opregtheid daadwerklik groei in ons verhouding met God deur die kragtige werking van die Heilige Gees in ons hart en lewe en so mekaar help en leer hoe om meer soos Jesus te leef en ons gawes te ontdek en benut.

b) Ons sal in alles oop wees teenoor ons mede-gelowiges en hulle onvoorwaardelik vergewe en aanvaar  met die liefde van Jesus en so groei  in ons openheid, liefde en omgee-verhoudings vir mekaar.

c)  Ons sal ’n veilige tuiste  wees waar alle mense die liefde en warmte  van Jesus prakties sal ervaar en groei  in hul liefde vir mekaar en andere.

d)  Ons sal daadwerklik  en met ’n oop hart uitreik  na almal om ons en ’n verskil maak deur mense na Christus te lei en met Sy liefde te bedien en hulle in ’n verhouding met Jesus Christus te bring.

Credo:

Ons verbind onsself met oop harte om deur die voorbeeld van Jesus Christus te strewe na ’n opregte geloofsgemeenskap onder mekaar sodat ons in die nood en behoeftes van die gemeenskap waarin God ons geplaas het, kan bedien.

Ons Embleem

Die Kruis: God 3-enig is sentraal

Die Oop Hart: God se hart is oop vir ons, ons hart moet oop wees vir medegelowiges en die wêreld

Die mense: Die mense wat God in die gemeente plaas, is geborge en versorg binne die gemeente, word opgebou om dan te kan uitgaan in die wêreld.

Die rivier: Water is ‘n simbool van God se genade en seën, maar sê ook dat ons gemeente spesifiek in Hamilton (Waikato-rivier is ‘n simbool op die meeste amptelike dokumente) geplaas is om hier ‘n verskil te maak.