28 Mei 2020 – ACK Waikato Eredienste tydens level 2

28 Mei 2020 – ACK Waikato Eredienste tydens level 2

Boodskap aan almal betrokke by ACK Waikato: Die Gemeente met Oop Harte

28 Mei 2020

Vriendelike groete in die Naam van ons Heer en Verlosser Jesus Christus,

Dit is nou al meer as twee maande sedert ons as gemeente fisies in ‘n erediens of as kleingroepe bymekaar kon kom! Stadig maar seker begin dinge weer na normaal terugkeer – alhoewel ons steeds in ‘n absolute abnormale situasie en wêreld leef en ons plek moet vind!

Die kerk van Jesus Christus leef egter vanuit die werklikheid van ‘n ewige, almagtige en onveranderlike God. Ons as gemeente ervaar wel die effek van al die inperkings en reëlings en vrees wat die samelewing dryf, maar ons koers word nie daardeur bepaal nie. Ons koers word bepaal deur die ware Leier en deur Sy Woord en Heilige Gees! Daarom kan ons in die mees abnormale tye steeds voortgaan en in geloof en vertroue leef. Selfs in die mees stormagtige tye bly ons anker stewig en vas, want ons anker is Jesus!

Die aankondiging van die regering oor die hoeveelheid mense wat mag byeenkom, maak dat ons nou wettig as kleingroepe, vergaderings en eredienste bymekaar kan kom solank daar nie meer as 100 mense tegelyk bymekaar is nie. Hierdie wysiging geld vanaf eerskomende Vrydag (29 Mei 2020) om 12nm. Die Metodiste sentrum wat ons gebruik vir ons oggenddienste is egter eers vanaf 2 Junie oop en beskikbaar vir gebruik.

Daarom sal ons eerskomende Sondag (31 Mei 2020) steeds om 09:00vm net ‘n lewende uitsaai-erediens op Facebook en YouTube hê. Ons wil egter vra dat kleingroepe of huisgroepe reeds begin om bymekaar te kom en saam na die erediens te kyk en iets van die wonderlike gemeenskap van die gelowiges te ervaar.

Vanaf Sondag, 7 Junie 2020, sal daar weer eredienste plaasvind soos volg:

09:00vm  –  Hamilton in Metodiste sentrum (beperk tot 100 mense). Die erediens sal lewend op Facebook en Youtube uitgesaai word.

11:30vm  –  Plaaswyk erediens vind plaas by die plaaswyk kerk in Ngarua

17:00nm   – Te Awamutu erediens soos gebruiklik

18:30nm  –  Nazirite Engelse bediening by Metodiste sentrum.

(Lidmate van die Hamilton gemeente word versoek om asseblief in kleingroepe bymekaar te kom om saam by die 09:00h diens in te skakel. Tot ‘n maksimum van 100 mense sal die eredienste fisies kan bywoon. Ons beoog om Sondagskool by die kerk aan te bied in level 2, maar die finale reëlings moet nog bepaal word. Die lesse sal steeds aanlyn op die gemeente se webblad geplaas  word vir kinders en hulle ouers om te gebruik.)

Nuwe Bybelstudie en Preek-reeks

Ons begin DV Sondag, 7 Junie 2020, met ‘n gemeente wye Preek en Kleingroep-reeks:

“ ’n Lewe van Omgee en Uitreik” – Saam gefokus op God.

Die kleingroep materiaal is reeds beskikbaar. Kontak vir Gina (021 235 5292) of Elmarie (021 747 412) vir die materiaal,  as jy by ‘n groep wil inskakel of ‘n nuwe huisgroep wil vorm om die reeks saam te doen.

 

Groete in Christus,

Ds. Johan Hendricks (namens die leraarspan)

Comments are closed.