25 Maart 2020 – Bedieninge in ACK Waikato gaan voort – lees hier wat ons doen en beplan

25 Maart 2020 – Bedieninge in ACK Waikato gaan voort – lees hier wat ons doen en beplan

Aan almal betrokke by ACK Waikato

Vriendelike groete in die wonderlike Naam van ons Heer en Verlosser, Jesus Christus!

Ongeag wat jou spesifieke situasie mag wees, is daar een ding waarvan ons verseker is en dit is dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie (Rom 8:35).

Die leraarsgroep van ACK Waikato het gister vergader om na die wil van ons Vader te vra en in gehoorsaamheid aan Hom reëlings in plek te sit sodat die bediening in die gemeente effektief kan voortgaan ten spyte van die “lockdown”.

God is in beheer: Ons is daarvan oortuig dat God ook hier ten volle in beheer is en die situasie gaan gebruik tot beswil van Sy Koninkryk – tot opbou van gelowiges en uitbreiding van Sy Koninkryk. Elke verleentheid word in die hand van God ‘n nuwe geleentheid!

Bedieninge gaan voort – ander nuwe maniere: Dit is belangrik dat bedieninge in die gemeente voortgaan, want in hierdie tyd het mense nie minder bediening en ondersteuning en bemoediging nodig nie, maar juis meer! Juis in die tyd van sosiale isolasie, moet ons as kerk van Jesus Christus die verskil maak en die wonderlike omgee en gemeenskap wat daar in Jesus is, uitdra na almal om ons.

Ons moet nuwe maniere kry om steeds mekaar te versorg, om te gee, saam te kan groei en die wonderlike Blye Boodskap uit te dra, juis onder hierdie omstandighede.

Die volgende is in plek (of is besig om in plek te kom):

  1. Erediens Afrikaans: Elke Sondagoggend 09:00vm sal daar ‘n lewende erediens-uitsending plaasvind op Facebook (ACK Hamilton) asook op YouTube (ACK Waikato kanaal). Almal betrokke by die Hamilton, Plaaswyk en Te Awamutu geloofsgemeenskappe word ernstig versoek om as gesinne saam in te skakel elke Sondagoggend en saam te deel in die erediens! (U kan ook vriende en familie nooi om in te skakel)
  2. Erediens Engels: Elke Sondagaand om 6:30nm (18:30) sal daar ‘n lewende erediens-uitsending in Engels plaasvind op Facebook (Nazirite ministry). Hierdie erediens sal ook daarna op die gemeente se Youtube kanaal asook Facebook beskikbaar wees om te luister. Moedig asb vriende aan om in te skakel en deel te word van ‘n amazing bediening.
  3. Gebed is geweldig belangrik in hierdie tyd en elkeen word opgeroep om hierdie tyd te gebruik om te groei in ‘n nouer verhouding met ons Vader en om sonder ophou vir mekaar en die wêreld te bid. Die gemeente se gebedsbediening sal kyk na maniere waarop ons ook aktief saam kan deelneem aan gebed al is ons fisies ge-isoleer.
  4. Belydenisklas sal voortgaan (aanlyn). Ds Louis Smith en Salmon sal binnekort die reëlings daaroor aan almal deurstuur.
  5. Kleingroepe word versoek om steeds met mekaar kontak te behou en mekaar te bly ondersteun. Sover moontlik, sal dit goed wees indien kleingroepe steeds aanlyn byeen kan kom (Skype, Whatsup, Zoom, ens). Daar is materiaal wat aanlyn gebruik kan word beskikbaar. Kontak vir Gina Hendricks gina@ackhamilton.co.nz
  6. Kinderbediening: Die Geloofsonderrig is besig om materiaal saam te stel wat dan op die gemeente se webblad (www.ackhamilton.co.nz) beskikbaar sal wees vir ouers om met hulle kinders te doen. Maak asb gebruik van hierdie wonderlike geleentheid om te belê in jou kind se lewe!
  7. Pastorale sorg: Al die leraars (Johan, Louis en Salmon) is steeds voltyds in diens en beskikbaar vir hulp, raad, ondersteuning, disipelskap asook berading. Dit sal net telefonies, of aanlyn (byv Skype) plaasvind. Moenie huiwer om een van die leraars te kontak nie.
  8. Ook die gemeentepersoneel (Marista, Gina, Nicole, Adele, Jannie en Daniëlle) is steeds in diens en beskikbaar om te help sover moontlik. Moenie huiwer om hulle te kontak nie.
  9. Veritas-klasse (Sertifikaat en Diploma) gaan steeds voort op Dinsdag- en Woensdagaande soos gewoonlik; nou net met alle deelnemers op Skype.
  10. Paasfees: Oor twee weke is dit Paasnaweek – ‘n besondere tyd in die jaar waar ons die kruisiging en opstanding van Jesus herdenk. Hierdie jaar kan niemand weggaan vir Paasnaweek nie, daarom sal die gemeente ekstra moeite doen om dit vir elkeen ‘n baie spesiale Paasgeleentheid te maak. Die volgende is in beplanning:
    • Donderdagaand sal ‘n liefdesmaal (breking van brood) in gesinsverband gedoen word. Die geleentheid sal op die gemeente se YouTube kanaal lewendig uitgesaai word. Meer inligting en hoe om deel te wees van hierdie spesiale geleentheid sal mettertyd aan u gestuur word.
    • Vrydagoggend om 09:00vm word die erediens wat die kruisiging van Jesus herdenk, lewend uitgesaai op Facebook en Youtube. Skakel asb. in en nooi andere om ook in te skakel.
    • Sondagoggend om 09:00vm word die opstandingsdiens lewend uitgesaai op Facebook en Youtube. Skakel asb. in en nooi andere om ook in te skakel.

Die leiersgroep van ACK Waikato wil u verseker van ons voortdurende gebed vir elke leier en die gemeente. Ons sal in alles luister na wat ons Vader sê en hoe Hy ons lei en in gehoorsaamheid die pad met Hom en die gemeente loop.

Ons is daarvan oortuig dat hierdie krisis wonderlike geleenthede skep vir bediening aan mense en om as kerk van Jesus werklik ‘n verskil te kan maak!

In Jesus Naam.

Johan Hendricks, Louis Smith, Salmon van Huyssteen en Neels Botha

Comments are closed.